Die uitruilprogram
Word deel van die volgende reis
Die JPN verwelkom graag hulp uit enige oord om die reis na Suider-Afrika te vergemaklik. Jy kan betrokke raak op ʼn aantal maniere.
Raak betrokke
Word deel van die Jongerenprojek in Suider-Afrika
Ons is verskriklik dankbaar vir ons getroue borge. Indien ʼn organisasie belangstel daarin om ʼn borg te wees, kontak ons gerus.
Jy kan ʼn gasouer wees vir die volgende reis. Die Lae Landse studente se reis begin gewoonlik in Julie en eindig vroeg in Augustus (23 Julie – 13 Augustus 2024). Moenie skrik vir die taalverskil nie! Mens se oor word vinnig gewoond aan die Nederlands of Vlaams en dit is altyd ʼn heerlike plesier wees om buitelandse studente in die sitkamer te hê en kennis te maak met hierdie studente.
Jy kan deelneem en help organiseer aan aktiwiteite tydens die studente se reis in jou provinsie. Dit sal ons enorm help om jou bydrae te hê. Kontak enige van ons komiteelede om deel te wees van ons 2024-reis.
As jy ʼn alumnus van die JP is, kontak enige van ons komiteelede as jy belangstel daarin om deel te word van die uitvoerende komitee.
Voordele van die JPN
Hoekom deel wees van die Jongerenprojek?
- Jy word op vele vlakke verryk. Die kulturele, sosiale en talige ervaringe is van onskatbare waarde.
- As jy ʼn belangstelling in Suider-Afrika of die Lae Lande het, sal hierdie program op verskeie vlakke vir jou van waarde wees, insluitend akademies, kultureel en sosiaal.
- Die vriendskaplike en professionele bande wat jy op so ʼn reis smee, bly jou lewenslank by.
- Die program bied aan jou die geleentheid om te reis – of jy na Suider-Afrika of na die Lae Lande reis, word jy aan ʼn aantal stede blootgestel.
Ons borge
Borge wat voorheen deelgeneem het om die Jongerenprojek moontlik te maak
Vrae en antwoorde
Algemene vrae en antwoorde vir Suider-Afrikaanse studente wat na die Lae Lande reis
Kandidate wat aansoek doen om aan die program deel te neem moet geregistreer wees by ’n tersiêre instelling en moet reeds hulle tweede studiejaar geslaag het.
Die voertaal van die toer is Afrikaans en Nederlands. Deelnemers moet Afrikaans in so ’n mate magtig wees (basies op die vlak van huistaal), dat hulle Nederlands sal kan verstaan ten tye van die toer. Kennis van Nederlands is dus geen vereiste nie.
Hou ons webwerf en sosialemediabladsye dop oor wanneer daar ʼn oproep vir deelname uitgestuur word. Deelname geskied by wyse van aansoek en keuring deur die JPN se uitvoerende komitee. ʼn Motiveringsbrief (maksimum drie bladsye), ʼn bondige CV (maksimum twee bladsye) en ʼn verwysingsbrief van ʼn personeellid by die bepaalde instelling moet die aansoekvorm vergesel. Jy sal elektronies jou aansoek kan indien deur ʼn skakel op ons webwerf (wat nader aan die tyd beskikbaar gestel sal word).
In 2023 was die deelnemersfooi R25 000 per persoon. Die fooi is onderhewig aan verandering vir elke nuwe toer, maar studente kan dit as ʼn wegspringpunt gebruik.
Die fooi sluit in: vlugte vanaf O.R. Tambo na Brussels en terug, alle vervoer en verblyf ter plekke, meeste etes, toegangsfooie en kostes vir aktiwiteite wat in die program opgeneem is.
Die volgende uitgawes word nie ingesluit nie: kostes vir visum (eventueel paspoort), reisversekering, vervoer na en van O.R. Tambo en sakgeld. Hierdie kostes (vervoer van buite Gauteng na O.R. Tambo toe uitgesluit) sal ongeveer R 5 000 beloop.
Studente word aangemoedig om self vir borge te soek (bv. vanaf hulle tersiêre instelling of verwante instansies). Daar is egter bepaalde befondsingsmoontlikhede, en die JPN-keuringskomitee is bereid om verdienstelike kandidate op aanvraag by te staan in hierdie verband.
Suider-Afrikaanse studente reis weer in 2025 na die Lae Lande. Aansoeke sal waarskynlik vanaf einde 2024 oopgestel word.
Raak betrokke
Vind jou plek in die Jongerenprojek
Ons hoor graag van jou! Indien jy enige vrae, voorstelle of terugvoer het, kan jy ons gerus kontak deur hierdie aanlyn vorm te voltooi.