Die ryk geskiedenis van die Jongerenprojek
'n Reis deur die verbindings van Suider-Afrika en die Lae Lande
Jaarlikse uitruil
Die kulturele reis van studente
Die ontstaan van die Jongerenprojek moet verstaan word teen die agtergrond van die historiese verbintenis tussen Suider-Afrika en die Lae Lande (Nederland en Vlaandere). In 1973 spreek professor Frits de Waard, in lewe emeritus hoogleraar van epidemiologie aan die Universiteit Utrecht, kommer uit oor die groeiende kloof tussen Nederland en Suid-Afrika. Die idee ontstaan van ’n groepsreis van Suider-Afrikaanse jongmense wat in Nederland hoofsaaklik by gasgesinne sou tuisgaan.
In 1975 vind die eerste reis dan plaas en staan bekend as die Jeugprojek. 24 deelnemers uit Suider-Afrika lê in Vlaandere en Nederland besoek af. In 1977 vind die reis omgekeerd plaas en reis ’n groep jongeren vanuit die Lae Lande na Suider-Afrika – gedoop die Jongerenprojek.
In die 1980’s kompliseer die opheffing van die kulturele verdrag tussen Nederland en Suider-Afrika, en uiteindelik Nederland se kulturele boikot van Suid-Afrika, die reis. Dit word egter nie gekéér nie en in hierdie tyd word die Genootskap Nederland–Suid-Afrika gestig om die organisering van die reis op die Suider-Afrikaanse bodem te behartig.
Daar word mettertyd besluit om die Jeugprojek en die Jongerenprojek onder een naam tuis te bring. Voortaan heet sowel die reis na die Lae Lande as die reis na Suider-Afrika die Jongerenprojek (of in Nederlands -project). Om die ideologiese en finansiële onafhanklikheid van die suidelike JP te verseker, word die Jongerenprojeknetwerk in 2013 gestig: ’n niewinsgewende organisasie wat verantwoordelik is vir die organisering van die uitgaande en besoekende reise op Suider-Afrikaanse bodem. In Vlaandere word die JP georganiseer deur die Vlaams Zuid-Afrikaanse Vereniging en ook gedeeltelik deur die Orde van den Prince en in Nederland deur die Stichting Zuid-Afrikahuis.